DOI: 10.4102/lit.v35i1.1074

Abstract

Toegepaste taalkunde is ’n ontwerpdissipline: dit los taalprobleme op deur ’n plan of bloudruk vir die hantering daarvan voor te stel. Hierdie ontwerpe word soms as hoogs vernuwend aangemerk. Is innoverende taalkursusse en -toetse egter in alle opsigte regtig nuut? Hierdie artikel argumenteer dat histories-betekenisvolle draaipunte in toegepaste taalkundige ontwerpe ’n beduidende mate van kontinuiteit met vorige ontwerpe toon. Dit was die geval met kommunikatiewe taalonderrig, en selfs vir vroeere innovasies soos die oudio-lingualisme. Ook in taaltoetsing bou beide interaktiewe en meer sosiaal-verantwoordbare ontwerpe op die verlede. Soos met vernuwing, is die idee van wederkerigheid in toegepaste taalkundige ontwerpe ’n grondslagkwessie. Hoeveel wederkerigheid bestaan daar op die gebiede van taaltoetsing, taalkursusontwerp en taalbeleidsformulering? Hoekom kyk ons nie spesifiek na of die ontwerp van ’n kursus net so verantwoordelik en noukeurig gedoen word as die van ’n toets nie? Wat kan ons leer by taalbeleidsformulering as ons toetse meer toeganklik en verantwoordbaar wil maak? Wat kan toetsontwerpers by kursusontwikkelaars oor spesifisiteit leer? Daar bestaan talle nuttige vrae wat ons skynbaar nooit vra nie. Hierdie artikel oorweeg hoe, deur oor verskillende vlakke van toegepaste taalkundige artefakte (taalkursusse, taaltoetse en taalbeleide) heen te kyk, ons die beginsels van verantwoordelike ontwerp kan verryk. Ons wil graag verras word deur innovering in die ontwerpe wat ons professie aanbied, maar ons moet terselfdertyd werk aan ons begrip van ’n verantwoordelike ontwerpraamwerk. So ’n vertrekpunt bied ons ’n maatstaf om die vlietende en die standhoudende in nuwe ontwerpe mee te beoordeel.

Citation format

WEIDEMAN, A. Innovation and reciprocity in applied linguistics: Original research. Literator-Journal of Literary Criticism Comparative Linguistics and Literary Studies, 2014, 35: 10.